BEHEER OOR JOU EMOSIES, NIE ANDERSOM NIE.
(Marijke Edwards)
Al ooit opgestaan moeg vir die lewe, depressief en ongelukkig, maar jy weet nie eintlik presies hoekom nie. Soos die dag aangaan verander dit in frustrasie, irritasie en woede en dan is jou hele dag daarmee heen. Jy moet nie toelaat dat jou emosies die oorhand oor jou kry nie. Jy moet hulle hanteer, nie hulle vir jou nie.
Dit klink maklik genoeg om te sê, maar om dit in werking te sit is 'n ander storie. Dit hoef nie te wees nie. Dit hang alles van jou af. Jy kan beheer neem of kies om in te gee en dit maar te vat om gefrustreerd, geïrriteerd of moedeloos en hartseer te wees.
As jy bietjie mooi daaraan dink, dit is nie net jouself wat jy indoen nie. Dit is die arme een op wie jy jou frustrasies uithaal ook, en kort voor lank gaan jy mense wat vir jou omgee verloor en ook die respek van ander en dit oor jou houding.
Stel dit reg, kies om op te staan met 'n "smile", maak nie saak wat op jou skouers lê nie. Elke dag het sy eie probleme, maar as jy die dag aanpak met die idee dat dit jou nie gaan onderkry nie, gaan dit al klaar 'n groot verskil maak. As die emosies jou onder begin kry, bid daaroor en vra die Here om jou daarmee te help en sê sommer reguit ‘nee, ek weier om so te voel’.
Here, ek voel hoe die frustrasies opbou, maak my asseblief rustig en gee my vrede. Help my om rustig te raak en myself nie so op te werk nie.